Die Herout
Jaargang 43
Julie 2021
Foto: Emma Olivier

Ons het almal grootgeword met die bekende feëverhale wat herhaaldelik vir ons as kinders vertel is. Ons hoor hulle as slaaptydstories, sien hulle as animasiefilms van Disney en hoor hulle by die skool in jonger grade. Maar waarvandaan kom hierdie bekende verhale waarna ons so graag as kinders geluister het?

Die oorsprong van sprokies dateer duisende jare terug en kom van reg oor die wêreld. Anders as volksverhale en legendes, verwys feëverhale baie min na geloof, spesifieke mense, plekke of gebeurtenisse. Die term eendag lank gelede word eintlik gebruik in die plek van ’n spesifieke tyd.

Sprokies is dus universeel.

Die wêreld se oudste sprokie, The Smith and the Devil, is meer as 6000 jaar terug vir die eerste keer vertel. Die eerste geskrewe feëverhaal kom van antieke Egipte af, rondom 1300 v.C.

Verskillende lande het oor die jare hulle eie weergawes van die feëverhale ontwikkel. Byvoorbeeld, in die bekende sprokie, Rooikappie, word Rooikappie deur ’n groot wolf mislei. Dit is hoe die Europese weergawe van die sprokie gaan, maar in die Chinese weergawe is dit eerder ’n tier as ’n wolf.

Feëverhale was nooit oorspronklik vir kinders bedoel nie.

Die vroegste feëverhale is eintlik vir volwassenes geskryf as gevolg van die gewelddadige en grusame tonele wat dikwels in die stories afgespeel het. Die stories het egter oor die jare verander en is eers teen die 19de en 20ste eeu meer vir kinders geskryf.

In 1812 het Jacob en Wilhelm Grimm hulle eerste feëverhaal-boek gepubliseer. Die stories in hulle boeke word steeds vandag vir kinders gelees en is al vele kere vertaal vanaf die oorspronklike Duitse verhale. Die boeke bevat talle bekende verhale soos Hansie en Grietjie, Aspoestertjie en Die Paddaprins.

Die stories van die broers Grimm is aangepas oor die jare (en met goeie rede). In hulle weergawe van Sneeuwitjie is Sneeuwitjie 16 jaar oud. Daar is ’n hele deel in die storie waar die koningin ’n jagter uitstuur om die jong meisie se longe en lewer vir haar te bring. Die jagter voel te sleg om die meisie dood te maak. Hy neem dus die longe en lewer van ’n vark vir die koningin. Die koningin eet die organe onwetend. Sy word darem gestraf wanneer sy uiteindelik noodgedwonge in ’n paar vuurwarm ysterskoene moes “dans totdat sy dood op die vloer neersak”.

In Die Ganswagtertjie gee ’n bose diensmeisie voor dat sy die prinses is. Die ware prinses word gedwing om met haar plekke om te ruil, nadat die diensmeisie die prinses se perd wat al die diensmeise se verkeerde dade gesien het, se kop laat afkap. Die ware prinses kry egter elke oggend simpatie by die perd se kop wat in die stadspoort hang. Wanneer die waarheid uiteindelik uitkom en die prinses haar ware plek in die paleis inneem, beveel sy vir die diensmeisie “om poedelnakend uitgetrek te word en in ’n vat gedruk te word waarin skerp spykers gekap is,” en dat twee perde “voor die wa ingespan word en haar straat op en straat af na haar dood sleep.”

Dit klink effens morbied.

In Die Haas en die Krimpvarkie neem die twee diere aan ’n wedloop deel. Die krimpvarkie se vrou, wat net soos hy lyk, wag by die wenstreep om die haas te kul. Die haas kan nie glo die krimpvarkie het voor hom by die wenstreep aangekom nie en wil weer hardloop. Die krimpvarkie was intussen heeltyd by die beginstreep. Die haas weier elke keer om op te gee en hardloop heen en weer totdat hy uiteindelik dood neerval. Wat ’n droewige verhaal om vir kinders te vertel!

Vandag word die stories darem op ’n minder gewelddadige manier uitgebeeld, maar hoekom was die ou feëverhale eers so grusaam? Sprokies is eintlik vir volwassenes geskryf, maar toe kinders daarin begin belangstel het, het die grootmense dit as ’n manier gebruik om kinders bang te maak sodat hulle gehoorsaam sou wees.

Is dit nie nogal Grimm nie?

Lees Verder

Benamingsrituele: what’s in a name?

Hellmuth Weich

Bemarking Bulletin: ’n oorsprongstorie

Kyla van der Riel

Besoek aan Calling Academy

Kaylin Grobler

Bitcoin – belaglik of belê?

Leandri Odendal